top of page

Die Ontstaan van JGT Skool

Aanduiding van hoërskool banke in Bonnievale

Die ontstaan, skoolwapen en leuse

Die verhaal van Nehemia het soveel paralelle met die visie en tot standbringing van die Jakes Gerwel Entrepreneurskool. Nehemia was die koning se skinker.

Hy het bewus geraak van die toestand waarin sy mense geleef het, die mure wat omgelê het en verbrande poorte, wat tot smart en wanhoop gelei het.  Nehemia se hart is deur die situasie aangegryp, wat hom tot trane gedryf het wat na gebed gelei het.

Met nege voederskole (laerskole) en net een hoërskool was die tekort aan skoolbanke ‘n toenemende probleem. Tabel 1 dui dat daar in 2018 reeds ‘n tekort aan sowat 705 hoërskool banke in Bonnievale sou wees. In 2023 sou hierdie syfer gegroei het na ongeveer 1257.

Waarheen moes hierdie leerders gaan? Sommige het wel plek in buurdorpe se skole gekry, maar baie het eenvoudig net weggeraak uit die stelsel want die onkoste vir vervoer en verblyf was net nie bekostigbaar nie. Gebrek aan hoop vorm karakter, en die verloor van eiewaarde op hierdie tydperk van tienerjare lei tot baie verdere probleme. Vir jare is daar aanskou hoe tienerdogters en -seuns in ons gemeenskap hoop verloor en ontspoor as gevolg van die gebrek aan onderwysvoorsiening.  Die ontstaan van JGT was dus nie net ‘n goeie idee nie. Dit was broodnoodsaaklik en op ouers se knieë gebore. 

Nehemia was nie ‘n ontwikkelaar of boukontrakteur nie. Hy het nie die finansiële middele gehad vir hierdie wondervisie wat in sy hart wakker gemaak is nie. Tog het hy in gebed na die koning gegaan, en God het die koning se hart gunstig gemaak teenoor hom.  Hy het ‘n menslik onmoontlike taak gehad. Hy moes genoeg hulpbronne versamel, moes eenheid kry onder ‘n wye verskeidenheid van mense, hy moes hulle motiveer en mobiliseer om saam te bou te midde van baie uitdagings onder andere ‘n menslike ontmoontlike kort tyd. Tog het die visie uitvoering gekry en dit is in ‘n rekordtyd van 52 dae voltooi, wat selfs die skeptici uiteindelik moes laat erken dit is die Here se werk.

As mens mooi lees besef mens dit was nooit Nehemia se visie nie, maar God s’n. God het ‘n liefde vir die wanhopige mense gehad en God het Nehemia se hart aangegryp. God het die guns bewerk sodat Nehemia genoeg gehad het om die muur te kan voltooi. God het die menslik onmoontlike laat afspeel om die muur binne-in ‘n rekordtyd van 52 dae staan te maak. Al wat Nehemia moes doen was om nederig en gehoorsaam hard te werk aan dit wat in sy hart gelê was om te doen.

Hoewel die behoefte vir ‘n skool soos die Jakes Gerwel Tegniese Skool reeds oor jare opgebou het, het die visie vir die oplossing in ‘n oomblik gekom: ‘n Enorme visie vir ‘n skool van miljoene Rande om voor Januarie 2018 ten volle operasioneel te wees. Die legkaartstukke het een na die ander in plek gekom, party gelyktyding en ander op ‘n nippertjie, maar ons is besig om te sien hoe die onmoontlike moontlik word en die prentjie van God se visie al duideliker. Die visie van JGT is nie ‘n mens se visie nie. Dit gaan nie oor enige mens se hart vir die kinders van Bonnievale nie. JGT ontstaan as gevolg van Jesus se liefde vir die kinders van Bonnievale. Dis ‘n antwoord op jare se gebed en trane. Ons is net nederig en gehoorsaam om hard te werk aan dit wat in ons harte gelê word om te doen. Daarom die leuse: “Uit Hom, deur Hom, tot Hom.” Dit is Jesus wat die puin van omgevalle mure en verbrande poorte in ons gemeenskap wil opruim en herbou, puin van verwerping, bitterheid, wanhoop, verslawing, trots, rassisme, minderwaardigheid, meerderwaardigheid, gebroke verhoudinge en gesinstrukture, vernedering, armoede, gebrek aan eiewaarde; die lys is lank. Hy wil deur JGE in ons gemeenskap ‘n nuwe herstel bring, ‘n wondervisie van hoop.

Na mate die tyd vorder, besef ons dat die visie nie net ‘n skool is nie, maar die hele gemeenskap met al sy gesinne en elke mensehart insluit. Ons besef ook dit is nie net ‘n visie vir ons gemeenskap nie, maar vir ons land. Dis ‘n visie vir God se koninkryk.

 

Die Visie

Die visie wat ons ontvang het gaan alles verander. ‘n Jaar gelede was hierdie visie maar nog ‘n saad, maar hoe vinnig het dit nie ontkiem en aan die groei geraak tot ‘n verbysterende projek nie! Met ‘n totale begroting van R85miljoen en ‘n bykans onmoontlike 52 weke om alles tot stand te bring, sou dit makliker wees om maar liewer weg te stap.  Die foto in Figuur 1 is geneem in Maart 2016 voor enige grondwerke bein is.

JGT is gevestig as ‘n Saamwerkskool, wat beteken dat die JGT Befondsingstrust en WKOD in samewerking is. JGT is die eerste van sy soort in Suid-Afrika wat as Saamwerkskool beide ‘n hoofstroom tegniese skool, sowel as Tegniese Vaardigheidskool bied. Die Jakes Gerwel Tegniese Skool sal daarop fokus om leerders te vorm om deelnemers te word aan die Suid-Afrikaanse ekonomie, terwyl hulle gevorm 

word om standvastige jong volwassenes te wees met gesonde eiewaarde. ‘n Sleutelfokus van JGT sal karakterontwikkeling en leierskap wees waarvoor ‘n karaktersentrum as konferensiesentrum hiervoor gebou word.

In geloof het ons vorentoe getree en die afgelope paar maande was ons bevoorreg om vanuit die voorste gestoeltes die visie voor ons te sien gestalte kry.  In hierdie foto van links, is Mnre, Alistair Marthur (WKOD), Philip Jonker (JGE Bevondsings Trust), Lourens Jonker (Philip se Pa) en Joe Bronkhorst (WKOD).

Die visie is die toekomsbeeld waarna daar gestrewe word. Dit is die ideale prentjie wat ons in ons geestesoog sien.

Ons sien . . .

  • jeug met hoop in hul oë

  • jeug met karakter en sekerheid van identiteit

  • jongmense met loopbaanpotensiaal

  • ‘n hele Bonnievale gemeenskap wat genees word en groei

  • groot getalle leiers wat die wereld gaan verander

Die naam Jakes Gerwel

Prof. Jakes Gerwel was ‘n navolgenswaardige karakter en leier en inspirasie vir ons wat in sy voetspore kan volg. Hy het grootgeword op plaas in ‘n plaaswerkergesin. ‘n Merkwaardige man met ‘n groot nalatingskap in Suid Afrika. Ons is dankbaar vir sy naasbestaandes wat gunstig was dat sy naam vir hierdie skool in Bonnievale kan gebruik word.

Prof. Jakes Gerwel was:

  • Nederig en sterk met ‘n seker karakter

  • ‘n Sleutelleier in SA en wyse mentor

  • Gesinsmens en beginselvas

  • Intellektueel, akademikus, sakeleier en sportliefhebber

  • Versoener met vriende uit alle kringe

  • Jakes Gerwel was vir Nelson Mandela die vertroueling, vriend en eerlike raadgewer.

Die Skool fasiliteite

Die skoolgronde is ruim en die fasiliteite modern beplan om ideaal te wees vir die uitnemendheid en omvang van die kurrikulum. Die skoolgronde is 12 hektaar, is esteties mooi weens die veelvlakkigheid en skep ‘n ruim kampusatmosfeer.

 

  • Karaktersentrum om 1200 leerders te akkomodeer met beradingslokale, kunstesentrum en loopbaansentrum

  • Hoofgebou en administrasie

  • Akademiese klaskamers

  • Gasvryheidstudie demonstrasielokaal

  • Gasvryheidstudie/voedingskema kombuis

  • Restaurant

  • Gasvryheidstudie laboratoria

  • Ingenieursgrafika en –ontwerplokale

  • Rekenaartoepassingstegnologie-lokale

  • Mediasentrum

  • Fisiese wetenskappe laboratoria

  • Meganiese Tegnologie werkswinkels

  • Siviele Tegnologie werkswinkels

  • Elektriese Tegnologie werkswinkels

  • Landbou Bestuursvaardighede werkswinkel

  • Landbougrond vir wingerd, groente en ande gewasse

  • Besproeiingsdam

  • Atletiekbaan

  • 3 sportvelde

  • Onderdak-pawiljoen

  • 5 netbal/tennisbane

  • Binneshuise sportfasiliteite

  • Parkering

Aanduiding van hoërskool banke in Bonnievale
bottom of page